Steve se Spoeg Blok
Om jou naam en die berugte (oorwegend onregverdig, maar nie as sulks ‘n slegte ding nie) Steve se Spoeg Blok in dieselfde Google search te sien is seker genoeg om enige-iemand se hart te laat gaan staan (volg die voorafgaande link en tik dan “hemelhel” by “use Google to search SSSB” aan die regterkant van die blad in om die inskrywing te sien). Dit was met ‘n bewende finger dat ek op die link gekliek het. En toe bars ek in trane uit…
Ja ek weet big boys don’t cry, maar om sulke kommentaar te lees van iemand so suksesvol en bekend as Steve Hofmeyr was meer as wat my ou hartjie kon dra:
Ek blaai deur Martinus De Beer se HEMELHEL en my oog vang die openingsblad se aanhaling “Tussen lyne staan geskryf wat net ons weet”. Dit kom uit ‘n lied WANT NET ONS WEET, om en by uit 1995. Ek het dit ook saam Rina Hugo gedoen die eerste keer toe ek Sun City gespeel het. Dankie Martinus en ek hoop jou boek doen goed.
Is jy ‘n Bloemfonteiner?
Steve Hofmeyr sê vir my dankie. Dit is ek wat vir hom moet dankie sê – vir al die woorde, musiek en vreugde wat hy in ons almal se huise en harte ingebring het. En dankie vir die woorde waarsonder ‘n dieper betekenis in Hemelhel verlore sou gaan.
Ja, ek is ‘n Bloemfonteiner in murg-en-been. Alhoewel ek in Namibië gebore is en ‘n gedeelte van my hart altyd sal terughunker na die woestyn, woon ek die grootste gedeelte van my lewe in Bloemfontein. Ek was ongelukkig nie in Grey College nie (vir die wat weet hoekom ek dit nodig ag om te sê), maar is ‘n JF’er al die pad.







